FONDSINSAMELINGSFIETSTOER TEN BATE VAN NIGEL TUISTE VIR BEJAARDES
Nigel Tuiste vir Bejaardes is geleë in Nigel, naby Heidelberg, aan die suid-oostelike grens van Gauteng. Soos op ons briefhoof aangedui, is ons deel van die Hoëveld Sinode van die NG Kerk se Barmhartigheidsdiens. Ons huisves 94 verswakte bejaardes in ons versorgingseenheid, asook 75 selfversorgende bejaardes in huur- en lewensreg wooneenhede op dieselfde terrein.
Vir die versorging van staatspesnieonarisse in ons versorgingsoord ontvang ons staatsondersteuning. Dit dek ongelukkig nie ons eenheidskoste nie en die inwoners en/of hulle naasbestaandes moet die restant bydra. Nie alle inwoners en hulle kinders is in staat om dit te doen nie, en, aangesien Nigel Tuiste ‘n barmhartigheidsorganisasie is, subsidieer ons hierdie inwoners uit eie fondse, aangesien hulle die versorging nodig het en ons nie mense toegang tot ons dienste kan weier net omdat hulle dit nie kan bekostig nie. Ten einde in staat te wees om dit te kan doen, loots ons jaarliks verskeie fondsinsamelingsprojekte.
Een van die projekte wat ons vanjaar beoog, is ‘n fietstoer na Durban waardeur ons poog om borge te kry om die fietsryer(s) per kilometer te borg. ‘n Bejaarde persoon uit die gemeenskap, mnr Whitey Nel, wat ten tye van die fietstoer reeds 73 jaar oud sal wees, het aangebied om die tog per fiets aan te pak! Hy is nog baie fiks en het onlangs ook die Argus fietsren voltooi. Hierdie fietstoer word beplan vanaf 16 tot 25 Augustus 2010.
Ons versoek u vriendelik om ‘n borgskap per kilometer wat oom Whitey gaan ry na Durban te oorweeg. Die afstand is volgens ons berekening 620 kilometer. U kan ook ‘n donasie aan die Tuiste vir Bejaardes maak wat vir dieselfde doel aangewend sal word.
Vir nadere besonderhede skakel die Hoof van die Tehuis, Mnr. Chris Engelbrecht.
Aflaaibare dokumente: Fietstoer Borgskap, Fondsinsameling, Besonderhede van Fietsryers & Toerprogram.